Roer en Rumoer in Pienaarsdorp

posted in: Community, eNews | 0

Pienaarsdorp is die weeskind van Klerksdorp

As mens deur die strate van Pienaarsdorp ry, kan mens nie anders as om naar te word nie. Die hele area lyk soos die asgate!

Van die straathoeke is omskep in mini-stortingsterreine wat dreig om die strate oor te neem. Die sypaadjies lyk vreeslik met gras so hoog, dat mens 'n leeujag kan onderneem as jy nie bang is vir verdwaal nie! Dan praat ek nie eens van die mense wat hulle vuilgoed sommer so op die sypaadjies verbrand nie.

Om sake nog meer te vererger, maak daar nog 'n onwettige shebeen oop en, as jy nie versigtig daar verbyry nie, kan jy dalk een van hulle klante omry.

Dan is daar die 'dames' van die straat. Hulle sit/staan oop en bloot en besigheid doen en die manne laai hulle, sonder enige skaamte, op. Maar dis nie my plek om hulle oor die vingers te tik nie.

Ek het wel verneem dat Pienaarsdorp 'n DA verteenwoordiger het en ek het vir die persoon eposse gestuur om hom in te lig oor die omstandighede. Groot was my verbasing, toe hy my vra om kiekies te verskaf. Beteken dit, dat alhoewel ons 'n verteenwoordiger het, dat hy so lanklaas hier in ons geweste was, dat hy kiekies aanvra? Beteken dit dat hy nie bewus is dat Pienaarsdorp so sleg lyk nie? Wat is die doel dan van 'n verteenwoordiger?