Skep ‘n suksesvolle omgewing …

  • No Ratings
  • No Ratings
  • No Ratings
  • No Ratings

“A strong, successful man is not the victim of his environment. He creates favorable conditions. His own inherent force and energy compel things to turn out as he desires.” OS Marden

‘n Sterk en suksesvolle mens is nie ‘n slagoffer van sy omgewing nie.  Hy skep vir homself ‘n suksesvolle omgewing.  Sy innerlike dryfkrag en energie dwing omstandighed om uit te draai soos hy dit verkies.

Klink dit dalk vir jou onmoontlik?  Dit mag wel so klink, maar as jy daadwerklik daaraan werk, kan dit wel ‘n realiteit word.

Die enigste tyd wanneer ‘n mens jou innerlike dryfkrag ontdek, is wanneer die noodlot aan jou voordeur kom klop.  Dit is in sulke tye wanneer jy na binne moet keer om oplossings te vind omdat daar nie van buite oplossings kom nie.  En dit is wanneer jy daardie innerlike Hercules binne jou ontdek.

Ek het al geleer as ek sukkel met ‘n probleem is die beste manier om ‘n breek te vat.  Partykeer benodig ek ‘n vyf minute breek van die probleem, ander kere moet ek die probleem vir ‘n dag vergeet.  En dan gewoonlik, kom die oplossing sommer van self.

Maar ‘n meer praktiese manier is om vir jou ‘n ondersteuningsnetwerk op te bou.  Terwyl jy besig is om hierdie netwerk op te bou, moet jy seker maak dat jy mense wat werklik saak maak in jou netwerk plaas.  Met ander woorde hulle moet vir jou iets kan beteken en meer belangrik, jy moet vir hulle iets kan beteken.

‘n Ondersteunings netwerk beteken in der waarheid ‘n netwerk van mense wat jou kan ondersteun.  Hierdie mense is die mense wat jy eerste kontak wanneer jy goeie nuus kry of as een of ander krisis, jou lewe binnedring.

Die blote feit dat jy verseker is van ‘n goeie ondersteuningsnetwerk beteken dat jou energie vlakke kan verhoog, jou stresvlakke verlaag en dit verhoog jou selfbeeld.

Die kenmerke van ‘n goeie ondersteuningsnetwerk is:

STERKTE: maak seker dat jy nie net op een of twee mense staatmaak om jou te ondersteun in ‘n krisistydperk nie.  Dit kan te veeleisend vir hulle raak en as hulle nie beskikbaar is nie, kan jy sit sonder ondersteuning.  Daarom is dit belangrik dat jy gereeld na verskeie mense uitreik.

VARIëTEIT:  deur seker te maak dat daar verskillende mense met verskillende vaardighede en kennis in jou ondersteuningsnetwerk is, sal jy toegang hê tot hulle vaardighede wanneer jy dit nodig het.

DIESELFDE BELANGSTELLINGS: wanneer jy deur ‘n spesifieke krisis gaan of werk vir ‘n sekere doel, dan is dit baie belangrik om mense te vind wat ook deur amper dieselfde krisis gaan of ‘n doel het wat naastenby ooreenstem met joune.  So kan jy leer uit hulle ervaringe.  Deur jou ervaringe met hulle te deel kan ook grootliks bydra tot ‘n beter selfversorgingsprogram.  Dink hier aan ondersteuningsgroepe, netwerkgroepe en kollegas.

IETS OM NA TE STREEF: maak ‘n punt daarvan om jou verhoudinge met mense te versterk wat jou kan inspireer, ondersteun en aanmoedig.  Mense wat jou sal help om jouself te bemagtig en te help groei sodat jy jou volle potensiaal kan bereik.  As voorbeeld sal ‘n persoon wat goed vir homself sorg, jou inspireer om die regte gesondheidsbesluite te neem.  Iemand wat liefdevol en ondersteunend is, sal jou weer kan help om goed oor jouself te voel.  Iemand wat sukses bereik kan dalk sy/haar vaardighede met jou deel.

HOE OM JOU ONDERSTEUNINGSNETWERK TE VOED EN TE LAAT GROEI

BEL OF SKRYF OF SMS wanneer dit goed gaan, sowel as wanneer dit nie goed gaan nie.   Die deel van jou dankbaarheid en waardering kan help om die verhoudinge te verdiep en goeie gevoelens te help groei.

WEES OOP VIR NUWE MENSE.  ‘n Mens weet nooit wanneer iemand nuut in jou lewe gaan kom nie en watter spesiale gawes hulle na die tafel gaan bring nie.  Party mense kom in ‘n mens se lewe om net vir ‘n kort stonde te vertoef.  Maar as jy positief is, kan en sal jy altyd iets by elke persoon leer wat jy ontmoet.

BIED JOU HULP AAN.  Dit maak nie saak of dit mense is wie jy nie ontmoet het nie deur bv. ‘n vrywilliger te wees.  Om ander te help kan ‘n wonderlike ondervinding wees en ‘n goeie hupstoot gee aan jou selfversorging.  Onthou egter dat jou selfversorging altyd eerste moet kom.

ONTHOU ALTYD DIE VOLGENDE: Jou woord moet altyd jou eer wees.  Moenie alles persoonlik opvat nie.  Moenie afleidings maak nie.  Doen altyd jou bes.

As jy nie lus voel om met iemand te praat nie … praat met iemand.  Partykeer verkies ons om  onsself te isoleer wanneer iets in ons lewens verkeerd gaan en dit kan werklik moeilik wees om dan uit te reik na ander.  Maar dis hier waar ‘n suksesvolle persoon uitstyg bo ander.  Hulle dwing hulself om daardie uitreiking te doen, al voel hulle nie lus nie.  En so bou hulle vir hulself ‘n gesonde ondersteuningsnetwerk wat ‘n goeie fondasie is vir ‘n suksesvolle omgewing.

Probeer te alle tye wegbly van mense wat net die negatiewe in die lewe raaksien.  Omring jou met mense wat positief is.  Sorg dat die mense met wie jy in aanraking kom en deel is van jou lewe, ‘n goeie en positiewe impak op jou lewe sal maak.