Ja, en die oomblik wanneer jy daar instap, kan jy die verskil aanvoel. Dit is heerlik koel binne en die meubels is vervang met meer ‘classy’ tafels en stoele. Die menu is maklik leesbaar en baie professioneel uiteengesit.
Dit is mos maar altyd ‘n probleem as mens besig is, om op ‘n Sondag ‘n koningsmaal te berei en dit is juis daarom dat ek en manlief besluit het om vir Crowded House ‘n ‘go’ te gee. Die feit dat hulle ‘n vol, tuisgekookte maal teen slegs R30.00 aanbied, was glad nie die oorweginspunt nie
Die middagete sluit twee vleise, gebakte aartappels, twee groentes en rys met ‘n lekker sous in. Die bord is sommer vol geskep en jy kan rustig op jou tyd sit en eet terwyl pragtige Afrikaanse musiek in die agtergrond speel.
Die toilette is mooi skoon en vir ‘n verandering was dit lekker om toiletpapier, lugverfrisser, seep EN ‘n handdoek in ‘n openbare toilet aan te tref. En dis nie ‘n harde gekraakte pienk koekie seep wat soos gebarste hakskene lyk nie. Nee, dis sindelik in ‘n houer en ruik heel aangenaam.
Die atmosfeer in die eetplek is familie georiënteerd maar ek was aangenaam verras met die kinders. Dit was nie ‘n gehardloop en geskree soos mens by ander Restaurante sou aantref nie. Daar hang ook nie die heeltyd ‘n kelner rond wat die heeltyd (veral as jy sopas ‘n happie gevat het) vra of alles reg is nie.
Die spyskaart beloof ook ander tuisgemaakte etes soos kerry en rys, macaroni en maalvleis en vele ander teen baie billike pryse.
Die bestuur is vriendelik, behulpsaam en professioneel.
Ek sal beslis weer by hulle gaan eet. Knap gedaan!