As jy opsoek is na ‘n plekkie om rustig ‘n eetdingetjie te nuttig, is Rubique in Klerksdorp die plek vir jou!
Hierdie koffiewinkel/restaurant is gerieflik langs Klerksdorp Fruit and Veg geleë en bied vir jou van vrugtesap tot ‘n lekker wyn. Die spyskaart is volgeprop met die heerlikste disse en jy kan verseker wees dat daar aan elke aspek aandag gegee word. My persoonlike gunstelinge is die roereier vir ontbyt, skons, hoenderlewertjies, tramazinnis en natuurlik kan ek nie hulle heerlike tuisgemaakte cremora tert weerstaan nie.
Rubique het ‘n lekker “tuiskoms” gevoel wanneer jy daar instap. Pragtige dekor maak die plekkie warm en knus. Die eienaars, Hannes en Willie groet jou altyd persoonlik en kort voor lank voel dit vir jou asof julle al jare lank vriende is. Die netjiese kelnerinne is beleef en hoflik en hang nie die heeltyd om jou tafel nie. Hulle is goed opgelei en bedien mens flink en vinnig.
Maar hulle goeie diens strek verder as net die koffiewinkel.
Rubique bied ook spyseniering aan vir troues, vergaderings, seminare ensovoorts. Hulle kunstige hande staan vir niks verkeerd nie en hulle sal jou troue in ‘n sprokie omtower.
Volgende keer as jy dus jou groente gaan aanskaf, maak gerus ‘n draai by Rubique. Hulle heerlike disse, redelike pryse en gasvryheid sal beslis jou dag ophelder.
Write a Review of Rubique