by Maryke

FNB – Wilkoppies

February 26, 2010 in Klerksdorp by Maryke

Mense wat my goed ken sal weet dat ek nie graag iets doen wat ‘dorp toe gaan en in rye staan’ behels nie, maar partykeer dwing omstandighede mens om dit maar te doen.

Vanoggend was weer so ‘n dag. Ek MOES bank toe om ses maande se state kry. Ek het myself voorberei, my frustrasie ‘level’ opgewerk en myself reggemaak vir ‘n heerlike baklei.

Maar groot was my verbasing toe ek by FNB Wilkoppies instap. Ek word begroet deur ‘n dame met ‘n glimlag so wyd soos die Here se genade en sy vra boonop waarmee sy my kan help! Ek antwoord haar en ek word met ‘n vriendelike hand en ‘n “dis ‘n plesier” in die regte rigting gewys.

Dis koel en stil binne daardie bank. Die bank is skoon en gesellig en dinge verloop sommer seepglad daar. Almal glimlag en is hulpvaardig.

Dit was so lekker daarbinne dat ek sommer nie lus was om huis toe te gaan nie.

Dankie, FNB Wilkoppies vir uitmuntende vyfster diens!