As ‘n 42 jarige is ek nie werklik ‘n ‘metal’ of ‘rock’ aanhanger nie, maar toe ek Prelude to June se klanke hoor, was ek verlore!
Ek het hulle ‘CD Launch’ by Tusk Rio se Escapades teater hier in Klerksdorp bygewoon en was eenvoudig meegevoer deur hulle “presence” op die verhoog en die professionaliteit het my mateloos beïndruk.
Hulle het veral aandag gegee aan die fynere ‘detail’ soos baniere met ‘artwork’ wat hulle CD omslag reflekteer en die klank was onverbeterlik.

Die aanhangers het hulle waardering vir die musiek gewys deur ‘n ‘mosh pit’ te vorm, wat ‘n duidelike teken in die ‘metal’ wêreld is, dat die luisteraars hou van wat hulle hoor.

My absolute gunsteling liedjie is “Sand Castles” en ek moes myself keer of ek het ook ‘n ‘mosh pit’ van my eie gevorm J , die woorde is mooi en die melodie verruklik mooi.
Dit was asof hierdie liedjie jou aan die hartsnare beetkry en oplig na ‘n plek waar die mooi in die lewe seëvier.

Ashley is die hoofsanger van Prelude to June en die liedjies is sy pennevrug. Hierdie man spog met ‘n groot, groot stem wat die toeskouers intrek en hulle aandag behou. Well done Ahsley!

Links is Stefan wat die baskitaar speel. Hierdie man weet wat hy doen en mens kan sien dat hy elke oomblik geniet.
Agter is Brett wat die drom speler is. Mens raak amper ge’mesmerize’ as hy daardie stokke swaai.
En dan, vergun my die geleentheid om my seun uit te sonder, dit is tog ‘n ma se voorreg J
Tjaart

Ek dink my hart het byna uit sy nate gebars van pure trots. Seun, ek is trots op jou. Jy is manjifiek op die verhoog.
“Prelude to June” kan nie anders as om net ‘n groot en bekende sukses te word nie.
Mense wat my goed ken sal weet dat ek nie graag iets doen wat ‘dorp toe gaan en in rye staan’ behels nie, maar partykeer dwing omstandighede mens om dit maar te doen.
Vanoggend was weer so ‘n dag. Ek MOES bank toe om ses maande se state kry. Ek het myself voorberei, my frustrasie ‘level’ opgewerk en myself reggemaak vir ‘n heerlike baklei.
Maar groot was my verbasing toe ek by FNB Wilkoppies instap. Ek word begroet deur ‘n dame met ‘n glimlag so wyd soos die Here se genade en sy vra boonop waarmee sy my kan help! Ek antwoord haar en ek word met ‘n vriendelike hand en ‘n “dis ‘n plesier” in die regte rigting gewys.
Dis koel en stil binne daardie bank. Die bank is skoon en gesellig en dinge verloop sommer seepglad daar. Almal glimlag en is hulpvaardig.
Dit was so lekker daarbinne dat ek sommer nie lus was om huis toe te gaan nie.
Dankie, FNB Wilkoppies vir uitmuntende vyfster diens!
Die ‘Main China’ het bedank.
“I kid you not”, China is die naam van ons Burgermeester wat bedank het. Nou wil die semi main chinas vir hulle main china ‘n afskeidspartytjie hou wat der duisende rande gaan beloop.
Toe besluit Marykekie om ‘n wandeling met haar betroubare metgesel “Kojak” (ja- ja ek weet dis eintlik Kodak – maar ek wil nie adverteer nie) om vir julle te wys watter uitstekende werk hy al vir ons hier in Klerksdorp gedoen het.
Dan wil ek graag hê julle moet die vragie na die foto’s vir my asseblief beantwoord.
Hierdie is die sypaadjie voor ‘n sekuriteit maatskappy …

Hierdie is voor ‘n privaatwoning …

Mense onthou net nie dat die vullis lorrie NET drie swartsakke op ‘n slag wegry nie.

Eienaars word toegelaat laat hulle lee erwe ‘dumping grounds’ word.



Die inwoners het skynbaar geen trots nie

Selfs ou Paul sê … “Madam, dit lyk sleg hierso.”

Nou wonder ek … sal ons vir China ‘n Spitbraai of ‘n boemelaarspatytjie gee as ‘n afskeidsgeleentheid?
As jy opsoek is na ‘n plekkie om rustig ‘n eetdingetjie te nuttig, is Rubique in Klerksdorp die plek vir jou!
Hierdie koffiewinkel/restaurant is gerieflik langs Klerksdorp Fruit and Veg geleë en bied vir jou van vrugtesap tot ‘n lekker wyn. Die spyskaart is volgeprop met die heerlikste disse en jy kan verseker wees dat daar aan elke aspek aandag gegee word. My persoonlike gunstelinge is die roereier vir ontbyt, skons, hoenderlewertjies, tramazinnis en natuurlik kan ek nie hulle heerlike tuisgemaakte cremora tert weerstaan nie.
Rubique het ‘n lekker “tuiskoms” gevoel wanneer jy daar instap. Pragtige dekor maak die plekkie warm en knus. Die eienaars, Hannes en Willie groet jou altyd persoonlik en kort voor lank voel dit vir jou asof julle al jare lank vriende is. Die netjiese kelnerinne is beleef en hoflik en hang nie die heeltyd om jou tafel nie. Hulle is goed opgelei en bedien mens flink en vinnig.
Maar hulle goeie diens strek verder as net die koffiewinkel.
Rubique bied ook spyseniering aan vir troues, vergaderings, seminare ensovoorts. Hulle kunstige hande staan vir niks verkeerd nie en hulle sal jou troue in ‘n sprokie omtower.
Volgende keer as jy dus jou groente gaan aanskaf, maak gerus ‘n draai by Rubique. Hulle heerlike disse, redelike pryse en gasvryheid sal beslis jou dag ophelder.
Ja, ek is ‘n vrou en ‘n DIY paradys is nie werklik die tipe winkel wat ek elke dag uit vrye wil sal besoek nie. Die enigste rede is dat ek nie spyker van ‘n moer kan onderskei nie. Ek het gewoonlik hier in my kop die prentjie van die ding wat ek soek maar om dit te verwoord is nie maklik nie.
Na die onlangse haelskade hier in Klerksdorp, is my man baie besig en ek het my hulp aangebied. So word ek elke nou en dan gevra om ‘n inkopie te doen by Rock Building.
Dit is gegalvaniseerde draad, maskers en sulke ander goed wat dakke seël, boute en baie goed.
Wanneer ek by Rock Building instap is daar altyd iemand wat vra of hulle kan help. Mens staan nie daar en rondtrippel terwyl jy verlore voel tussen sement en goeters nie.
En dan luister hulle geduldig terwyl ek probeer om te verduidelik waana ek soek. Hulle verstaan blykbaar baie maklik as ‘n vrou verduidelik (miskien kan ander mans ‘n lessie of twee daar gaan leer oor hoe om ‘n vrou te verstaan) en voor ek my oë kan knip is die goedjies gehaal, opgeskryf en iemand dra dit na my kar toe!
Dit is nou diens waaroor mens huistoe kan skryf. Baie dankie Rock Building dat julle my met soveel geduld behandel as ek julle besoek.