Crowded House is onder Nuwe Bestuur!!

  • No Ratings
  • No Ratings
  • No Ratings
  • No Ratings

Ja, en die oomblik wanneer jy daar instap, kan jy die verskil aanvoel. Dit is heerlik koel binne en die meubels is vervang met meer ‘classy’ tafels en stoele. Die menu is maklik leesbaar en baie professioneel uiteengesit.

Dit is mos maar altyd ‘n probleem as mens besig is, om op ‘n Sondag ‘n koningsmaal te berei en dit is juis daarom dat ek en manlief besluit het om vir Crowded House ‘n ‘go’ te gee. Die feit dat hulle ‘n vol, tuisgekookte maal teen slegs R30.00 aanbied, was glad nie die oorweginspunt nie :-)

Die middagete sluit twee vleise, gebakte aartappels, twee groentes en rys met ‘n lekker sous in. Die bord is sommer vol geskep en jy kan rustig op jou tyd sit en eet terwyl pragtige Afrikaanse musiek in die agtergrond speel.

Die toilette is mooi skoon en vir ‘n verandering was dit lekker om toiletpapier, lugverfrisser, seep EN ‘n handdoek in ‘n openbare toilet aan te tref. En dis nie ‘n harde gekraakte pienk koekie seep wat soos gebarste hakskene lyk nie. Nee, dis sindelik in ‘n houer en ruik heel aangenaam.

Die atmosfeer in die eetplek is familie georiënteerd maar ek was aangenaam verras met die kinders. Dit was nie ‘n gehardloop en geskree soos mens by ander Restaurante sou aantref nie. Daar hang ook nie die heeltyd ‘n kelner rond wat die heeltyd (veral as jy sopas ‘n happie gevat het) vra of alles reg is nie.

Die spyskaart beloof ook ander tuisgemaakte etes soos kerry en rys, macaroni en maalvleis en vele ander teen baie billike pryse.

Die bestuur is vriendelik, behulpsaam en professioneel.

Ek sal beslis weer by hulle gaan eet. Knap gedaan!

Rubique

  • No Ratings
  • No Ratings
  • No Ratings
  • No Ratings

As jy opsoek is na ‘n plekkie om rustig ‘n eetdingetjie te nuttig, is Rubique in Klerksdorp die plek vir jou!

Hierdie koffiewinkel/restaurant is gerieflik langs Klerksdorp Fruit and Veg geleë en bied vir jou van vrugtesap tot ‘n lekker wyn.  Die spyskaart is volgeprop met die heerlikste disse en jy kan verseker wees dat daar aan elke aspek aandag gegee word.  My persoonlike gunstelinge is die roereier vir ontbyt, skons, hoenderlewertjies, tramazinnis en natuurlik kan ek nie hulle heerlike tuisgemaakte cremora tert weerstaan nie.

Rubique het ‘n lekker “tuiskoms” gevoel wanneer jy daar instap.  Pragtige dekor maak die plekkie warm en knus.  Die eienaars, Hannes en Willie groet jou altyd persoonlik en kort voor lank voel dit vir jou asof julle al jare lank vriende is.  Die netjiese kelnerinne is beleef en hoflik en hang nie die heeltyd om jou tafel nie.  Hulle is goed opgelei en bedien mens flink en vinnig. 

Maar hulle goeie diens strek verder as net die koffiewinkel.

Rubique bied ook spyseniering aan vir troues, vergaderings, seminare ensovoorts.  Hulle kunstige hande staan vir niks verkeerd nie en hulle sal jou troue in ‘n sprokie omtower.

Volgende keer as jy dus jou groente gaan aanskaf, maak gerus ‘n draai by Rubique.  Hulle heerlike disse, redelike pryse en gasvryheid sal beslis jou dag ophelder.