You are browsing the archive for Klerksdorp.

by Maryke

‘n Skokkende ontdekking!

July 11, 2010 in Klerksdorp by Maryke

Gister drentel ek en Lifiki so deur die strate van Klerksdorp, sommer net om bietjie besig te bly en ons kom toe af op ‘n huis wat deur ‘n Bank se sekuriteit opgepas word.

Ons belangstelling word dadelik geprikkel, aangesien ons opsoek is na ‘n huis in Klerksdorp met ‘n groot erf en ons besluit toe om te gaan loer.

Hierdie huis moes eens op ‘n tyd regtig oulik gewees het. Hy spog skaam-skaam met vier slaapkamers, 2 badkamers, sitkamer, kuier kamer en ‘n lekker groot gemaklike kombuis. Groot verrassing tref ons agter op die erf, ‘n swembad met plaveisel die werke! Die buitekamer spog ook leepoog met ‘n eie badkamer. Ek dink hierdie huis kan ‘n lekker bly huis wees.

Maar…

Die kaste se deure is uitgeruk! Die matte is swart en daar hang ‘n vrotsige reuk oor die hele plek. Die ligte – fittings, skerms en al – is uitgeruk. Die geyser is sommer so deur die plafon uitgehaal en daar is geen krane in die huis behalwe … waar die sekuriteitswag natuurlik moet bad en sy wasgoed was nie? Is dit nou nie vreemd nie? Alles in die huis is opgemors, gesteel en uitgeruk behalwe in die kamer waar die sekuriteitswag leef?

My vraag is nou…

Wie is verantwoordelik vir hierdie skade aan hierdie eens oulike eiendom?

  1. Die voormalige ‘eienaar’ wat a.g.v. finansiële redes nie meer die paaiement kon bekostig nie? Hy sal natuurlik verantwoordelik bly vir die verskil in die prys wat die bank kry as die eiendom op veiling verkoop. Natuurlik sal die eiendom vêr onder waarde verkoop a.g.v. die liederlike skade.
  2. Die bank? Op die ou end bly die eiendom die eiendom van die bank tot hy klaar betaal is? Gee hulle bloot nie om nie omdat hulle brood aan beide kante dik gebotter en gekonfyt is? Hulle sal tog nooit verloor nie? Die nuwe ‘eienaar’ sal die veiling prys betaal en die voormalige ‘eienaar’ moet die verskil betaal. Die bank lag al die pad bank toe!
  3. Die sekuriteitsmaatskappy? Hulle word betaal vir ‘n diens wat nie gelewer word nie. Hulle mense het slaapplek, hulle wagte se pelle kan ook sommer inbly – want tans woon daar drie ‘wagte’ – en boonop beding die wagte ‘n ekstra inkomstetjie deur die huis stuk vir stuk te verkoop!

Is hierdie aanvaarbaar? Wie beskerm die voormalige ‘eienaar’ teen hierdie skade? Is daar ‘n ombudsman aan wie se deur mens kan gaan klop of is hierdie situasie ‘n algemeen aanvaarbare praktyk in Klerksdorp?

 

Ek vra maar net.

by Maryke

Prelude to June

February 28, 2010 in Klerksdorp by Maryke

As ‘n 42 jarige is ek nie werklik ‘n ‘metal’ of ‘rock’ aanhanger nie, maar toe ek Prelude to June se klanke hoor, was ek verlore!

Ek het hulle ‘CD Launch’ by Tusk Rio se Escapades teater hier in Klerksdorp bygewoon en was eenvoudig meegevoer deur hulle “presence” op die verhoog en die professionaliteit het my mateloos beïndruk.

Hulle het veral aandag gegee aan die fynere ‘detail’ soos baniere met ‘artwork’ wat hulle CD omslag reflekteer en die klank was onverbeterlik.

Die aanhangers het hulle waardering vir die musiek gewys deur ‘n ‘mosh pit’ te vorm, wat ‘n duidelike teken in die ‘metal’ wêreld is, dat die luisteraars hou van wat hulle hoor.

My absolute gunsteling liedjie is “Sand Castles” en ek moes myself keer of ek het ook ‘n ‘mosh pit’ van my eie gevorm J , die woorde is mooi en die melodie verruklik mooi.

Dit was asof hierdie liedjie jou aan die hartsnare beetkry en oplig na ‘n plek waar die mooi in die lewe seëvier.

Ashley is die hoofsanger van Prelude to June en die liedjies is sy pennevrug. Hierdie man spog met ‘n groot, groot stem wat die toeskouers intrek en hulle aandag behou. Well done Ahsley!

Links is Stefan wat die baskitaar speel. Hierdie man weet wat hy doen en mens kan sien dat hy elke oomblik geniet.

Agter is Brett wat die drom speler is. Mens raak amper ge’mesmerize’ as hy daardie stokke swaai.

En dan, vergun my die geleentheid om my seun uit te sonder, dit is tog ‘n ma se voorreg J

Tjaart

Ek dink my hart het byna uit sy nate gebars van pure trots. Seun, ek is trots op jou. Jy is manjifiek op die verhoog.

“Prelude to June” kan nie anders as om net ‘n groot en bekende sukses te word nie.

by Maryke

FNB – Wilkoppies

February 26, 2010 in Klerksdorp by Maryke

Mense wat my goed ken sal weet dat ek nie graag iets doen wat ‘dorp toe gaan en in rye staan’ behels nie, maar partykeer dwing omstandighede mens om dit maar te doen.

Vanoggend was weer so ‘n dag. Ek MOES bank toe om ses maande se state kry. Ek het myself voorberei, my frustrasie ‘level’ opgewerk en myself reggemaak vir ‘n heerlike baklei.

Maar groot was my verbasing toe ek by FNB Wilkoppies instap. Ek word begroet deur ‘n dame met ‘n glimlag so wyd soos die Here se genade en sy vra boonop waarmee sy my kan help! Ek antwoord haar en ek word met ‘n vriendelike hand en ‘n “dis ‘n plesier” in die regte rigting gewys.

Dis koel en stil binne daardie bank. Die bank is skoon en gesellig en dinge verloop sommer seepglad daar. Almal glimlag en is hulpvaardig.

Dit was so lekker daarbinne dat ek sommer nie lus was om huis toe te gaan nie.

Dankie, FNB Wilkoppies vir uitmuntende vyfster diens!

by Maryke

Karwagte

July 14, 2009 in Frustrasies by Maryke

Wat ‘n Frustrasie!

Daar is niks meer frustrerend as om te stop by ‘n plek om net vinning iets te kry wat jy weet net 2 minute gaan neem en jou gewete dwing jou om die karwag te betaal.  Ek is seker elke mens in Suid-Afrika het al hierdie frustrasie beleef en glo my, in Klerksdorp is dit dieselfde.

Ek het die ideale oplossing.

Elke winkel in ‘n kompleks moet ‘n bydrae maak tot die karwag.

Byvoorbeeld:

Kompleks met 9 winkels gee elkeen R200.00 en die bestuur ook R200.00.  So kry die karwag dan ‘n “vaste salaris” van R2000.00 per maand.  Dit onus is dan op die kompleksbesoeker om te besluit of hy ‘n verdere fooitjie wil gee afhangende van die diens wat hy ontvang het en ook afhangende hoe ver die karwag op daardie oomblik van sy kar af is.

Ek het al telke male met daai kaartjie weggery omdat die karwag net nerens te vinde was nie.  Maar as die karwag vir my ‘n aanduiding gee dat hy bewus is van my, dan kry hy sy fooitjie.

Wat dink julle?

by Maryke

Klerksdorp

July 10, 2009 in Algemeen by Maryke

Klerksdorp

Klerksdorp

Ek het so drie jaar terug, agter die liefde aan, na Klerksdorp toe getrek na ek my lewe lank in die buur”stad” Potchefstroom gewoon het.  Ek moet sê, ek was nog nooit spyt nie.

Klerksdorp het ‘n onderliggende energie wat mens in elke dag kan voel.  Besihede doen goed, mense is vriendelik en oral is daar vernuwing te sien.

Klerksdorp is ‘n mooi stad maar om in die begin jou weg te vind is nie ‘n vrou se maat nie.  Die eenrigtig strate maak mens deurmekaar en die dag dat jy daaruit sin maak, is dit soos ‘n “WOW” oomblik!

Op hierdie blog gaan ek poog om weekliks te fokus op ‘n besigheid en nooi ‘n ieder en ‘n elk uit om my te laat weet wat daar in jou besighed gebeur en wat nuut is, en ek plaas dit hier vir jou …. Gratis en verniet.  Waar kan jy nou beter kry?