Verslawing is nie ‘n skande nie!
» » » Verslawing is nie ‘n skande nie!

Verslawing is nie ‘n skande nie!

Ses jaar terug ontvang ek die oproep wat geen ouer ooit verwag om te kry nie … ‘Mammie help my Ek gaan dood!! Ek is verslaaf aan heroein!?!’

My eerste gedagtes was: ‘Wat, hoe, waar??’ Ek het nog altyd gedink dwelms bestaan net in Hollywood films!

Dit was die begin van my lang en eensame pad as geliefde van ‘n verslaafde. Familie en vriende het net geduld tot ‘n sekere punt … dan “verdwyn” die probleem vir hulle. Jou geliefde verslaafde kind se naam word skaars genoem. Die isolasie wat ek ondervind het, het my genoop om ‘n groep op Bible Club te begin en dit ‘Dagboek van ‘n ouer’ te doop. Bettie Geyer was die eerste lid van die groep. Daarna het ek ‘Dagboek van ‘n ouer’ geskuif na FB. In die groep kon ek my hart, onbeskaamd en sonder die vrees van veroordeling, uitstort.

Tot my verbasing het die ledetal begin groei en ek het besef dat pa’s, susters, broers, verloofdes en ander familielede deur die selfde smart as ma’s gaan.

Christa Venter het later begin optree as een van die admins op die groep, nadat ek haar genader het vir hulp, omdat die groep so fenominaal gegroei het en dit onmoontlik vir my, as een mens, was om dit te hanteer.

Maar die groep het aanhou groei na nagenoeg 2 000 lede en ek het besef dat meer admins nodig gaan wees. Vandag is Bettie Geyer, Hanli Koning, Nelia Berry Rossouw en Maryke van Rensburg ook van ons gewaardeerde admins. Nie net is ons ‘n span wat deur dieselfde meule is nie, ons het ook empatie vir mense wat by ons groep om aanklop vir hulp, raad, bemoediging en bystand.

Die groot hartseer is dat daar so ‘n groot stigma aan verslawing kleef. Mense kry skaam en het gewoonlik nie die vrymoedigheid om oor die probleem te praat nie, juis omdat familie en vriende nie sal of wil verstaan nie. Dit is hier waar die groep ‘Dagboek van ‘n ouer’ ‘n rol van onskatbare waarde speel. Elkeen van ons groeplede is daar om liefde te gee, ‘n oor wat luister aan te bied en ook ‘n skouer om op te huil – wanneer dinge te erg raak.

Christa Venter en Maryke van Rensburg kan gekontak word vir ‘n ondersteuningsgroep in Klerksdorp. Onthou dat groepleiers daar is om jou te help en te bemoedig en dat jy en die verslaafde nooit veroordeel sal word nie.

Die visie vir Dagboek van ‘n Ouer is om in elke dorp in Suid Afrika ‘n ondersteuningsgroep en netwerk te stig.

Sluit gerus aan by ‘Dagboek van ‘n Ouer’ as jy ‘n geliefde van ‘n verslaafde is Of self die “dwelm hel” oorwin het. Ons het ook ‘n webwerf waar nuwe inligting opgelaai word. Ons luister graag na jou getuie! Hannelie Berry Nieuwenhuys

Follow Klerksdorp Online:

Web Designer

Latest posts from